Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Hope hoop

Hierdie hoop besit ons as ’n veilige en onbeweeglike lewensanker (Heb 6:19).

Wanneer ons sê ons glo in die opstanding van die liggaam, bely ons dat ons hoop het. Want daarmee sê ons alle dinge is vir God moontlik; Hy kan selfs uit die dood, uit die stof waartoe ons verval, lewe wek, die ewige lewe openbaar! Die krag van God maak waarlik korte mette van die donkerste dieptes van ons bestaan: die dood en die doderyk.

’n Dokter het eenkeer gesê: “Hoop is die medisyne wat ek die meeste voorskryf. Hope hoop!” Emil Brunner het gesê: “Soos suurstof vir die longe, so is hoop vir die sinvolle bestaan van die mens.” Maar dan praat hy nie van hoop wat gebou word op menslike fondamente nie. Die enigste hoop wat nie beskaam nie, is die hoop wat gevestig word op dit wat God doen, in die besonder op die opstanding van Jesus uit die graf.

Menslike fondamente kan kraak, en dit gebeur inderdaad. Wie hulle hoop bou op fondamente soos eie vermoëns, gesondheid, toekomsprojeksies, die ekonomie of die aandelemark, kan maklik ontnugter word. Maar die hoop wat groei uit die leë graf van Jesus Christus is vas en seker. Die Hebreërbrief noem hierdie hoop “’n veilige en onbeweeglike lewensanker” (Heb 6:19). En so is dit.

Vul dan jou longe met hierdie hoop. Dis teue vol lewe!

Here, blaas tog die lewensasem in my longe in. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.