Uit genade is julle gered! (Ef 2:5).
Die dood neem baie vorme aan. Die ou kerkvaders het tussen drie vorme van die dood onderskei, naamlik geestelike dood (wanneer ’n mens sonder Christus leef); liggaamlike dood (wanneer ’n mens sterf en begrawe word), en ewige dood (wanneer ’n mens sonder Christus sterf en vir ewig verlore is). ’n Mens kan wel tussen hierdie drie vorme van die dood onderskei, maar dit kan nie van mekaar geskei word nie. Dit is alles slegs fasette van die een, somber werklikheid: die dood.
Maar Jesus het hierdie somber werklikheid oorwin! Jesus maak mense wat geestelik dood was lewend. Só verseker Hy hulle liggaamlike opstanding op die opstandingsdag tot die ewige lewe. Deur die woordjie dood word ’n streep getrek en lewe geskryf! Geestelike, liggaamlike en ewige LEWE!
’n Mens hoor hierdie totale triomf oor die dood wanneer Paulus roem: “Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee, sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het” (Ef 2:5-7).
Moet daarom nie aan die dood ’n plek in jou lewe gee nie. Nie eens ’n millimeter nie. Vul jou gedagtes, jou verwagtinge, jou dae met lewe.
Die Lewe.
Here, laat my tog vandag opstaan uit die dood. Want die dood is dood. Amen.