U laat die mens sterwe: U sê net: “Word weer stof!” (Ps 90:3).
Dit bly ’n ontnugterende gedagte dat die aarde toe lê onder ’n dik laag stof van gestorwe en vergete mense. En gouer as wat ons sou wou, is ook ons ’n aantal korreltjies op die tapyt van die vergetelheid. Gebore, gestorwe, vergete. “Ons jare skiet verby soos ’n gedagte … ons vlieg na ons einde toe” (Ps 90:9-10).
Maar, wanneer ons bely dat ons glo in die opstanding van die vlees, hou dit onder meer ook in dat ons elkeen kan sê: “Ek, ja, ek, word nie vergeet nie! Ek sal as ’n mens met bewussyn, as ’n mens wat ‘ek’ kan sê, uit die dood opstaan. Ek is nie maar net ’n paar korreltjies op ’n stoftapyt nie, nie bloot bemesting op die akker van die toekoms nie” (Van Ruler). Ek is nie maar net nog ’n nagedagte in die koerant onder die opskrif In memoriam nie. Ek bly selfs nie maar net in die geheue van God voortbestaan nie. Nee, dit is ek wat herleef!
Hierdie onwrikbare sekerheid moet ons regop hou wanneer donker tye kom. Dit moet ons vorentoe laat kyk wanneer ons die dood in en om ons sien rysmier. Laat die stof maar op die aarde toesak. Dit is gelukkig steeds God wat sê: “Word weer stof!” (Ps 90:3). Dit is dieselfde God wat die verganklike liggaam met die onverganklike sal beklee, en die sterflike met die onsterflike (1 Kor 15:53).
Mag dit jou stof tot nadenke gee. Én uitbundige blydskap.
Here, ek is maar ’n stoffie, maar ek is u stoffie. Amen.