Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Skink ’n glasie op die lewe

Maar nou, Christus is opgewek uit die dood … (1 Kor 15:20).

Die meeste mense verkies tog maar om nie aan die dood herinner te word nie. En as ons daaraan móét dink, is dit meestal in sulke kort sarsies. Dikwels gebeur dit in die nugtere oomblikke van ons lewe, wanneer ons gekonfronteer word met óf die wonder van die lewe óf die onverbiddelikheid van die dood. By die hoor van babakrete, die klank van huweliksklokke … en die kluitklap op die kis.

Die wete dat die dood onontkombaar is, kan ’n mens laat wanhoop of onverskillig maak oor die lewe. Sinies. Dit kan jou laat redeneer soos die hooploses van alle eeue: Laat ons dan maar eet en drink, want môre sterf ons! (1 Kor 15:32).

As alles net gedraai het om hierdie lewe, as ons maar soos die diere sou sterf, soos honde en katte, beeste en donkies … dan sou dit sin maak om jou uit te stort in die genot van die oomblik, om te gryp na die strooihalmpies van geluksaligheid wat die lewe jou bied. Want hierdie lewe is gou verby en jy vir ewig weg …

Maar, nee! Alles gaan nié net oor hierdie lewe nie. Daar is ’n opstanding van die vlees, my vlees. Ek het hoop. Met apologie aan die hooploses van alle eeue:

Laat ons eet en drink, want môre lééf ons!

Trouens, ek leef al vandag.

Here Jesus, U is uit die graf. Dit plaas die genot terug in die lewe. Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.