Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Seisoen van lewe

Wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie (1 Kor 15:58).

Hierdie tyd van die jaar is die meeste van ons pootuit. Miskien meer sielkundig en emosioneel as liggaamlik moeg! Dit is asof almal se geduld met die frustrasies en eise wat hulle vroeër in die jaar nog kon hanteer, begin dun word en hulle lankmoedigheid min … En al lê daar dalk ’n vakansie voor, word ons gepla met die wete: Volgende jaar begin alles weer van voor af …

Die lewe is so. Ons kom en gaan, blykbaar volgens ’n vaste siklus. Ons is uitgelewer aan die seisoene van die natuur en van menswees. Dit kan alles so vervelend, so sieldodend wees! Dit maak ons moeg. Soms lewensmoeg. Trouens, daar is miljoene mense wat moeg is vir die lewe, wat wonder of dié sleurgang dan al is waaroor die lewe gaan.

Vir mense met so ’n gemoedstemming is die belydenis van die opstanding van die vlees soos ’n tonikum. Dit gee aan moeë, moedelose mense ’n vonkel in die oog en veerkrag in die tred. In die lig van die opstanding kan Paulus mense aanmoedig: “Wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie” (1 Kor 15:58).

Omdat ons kan glo in die liggaamlike opstanding, is die lewe nie maar net ’n nimmereindigende, geslote sirkel waarin ons rondgeslinger word nie. Nee, met hierdie belydenis tree ons uit die moegheid en die doodsheid – tot in die Lewe!

Die opstanding van Jesus, en daarom ons eie opstanding, gee aan ons aardse bestaan betekenis. Aan al die seisoene van ons lewe. Ook aan hierdie lente, somer, herfs of winter.

Jesus, seën hierdie seisoen van my lewe. Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.