Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

In ’n oogknip

By die laaste trompet sal dit in ’n oomblik, in ’n oogknip gebeur (1 Kor 15:52).

Wanneer ons Sondae in die kerk bely: “Ek glo aan die opstanding van die vlees,” wonder ons soms: Hoe? Hoe word die dooies opgewek? Watter soort liggaam sal ons hê (1 Kor 15:35)? Dis ’n heel menslike vraag, maar moeilik om te beantwoord, want ons kan ons die heerlikheid moeilik in menslike taal of beelde voorstel. Dis moeilik om dit hierdie kant van die graf te verwoord. Ons kan ons maar net verwonder daaroor dat die dooies van alle eeue en alle plekke, dié wat op land en op see gesterf het, opgewek gaan word … Maar die besonderhede van hoe dit regtig gaan wees, dit het ons eenvoudig nie.

Oor die fyner besonderhede hoef ons gelukkig ook nie ons koppe te breek nie. God die Skepper en Herskepper kan en sal dit doen. Wat ons wel uit 1 Korintiërs 15:52 weet, is dat dit by die laaste trompet “in ’n oomblik, in ’n oogknip” sal gebeur … Dis al wat God “nodig” het: ’n oomblik en ’n oogknip! Dan sal die see die dooies teruggee wat daarin was, en die dood en die doderyk dié wat in hulle was (Op 20:13).

Moet jou daarom nie te veel steur aan die skynbare heerskappy van die dood oral om jou heen nie. Moenie toegee aan die morbiede stemming wat dit by jou wek nie. Die dood se opmars sal gestuit word, so seker as wat Jesus dit met sy opstanding reeds gefnuik het. Die dood en doderyk se uiteinde is die vuurpoel (Op 20:14). Klaarpraat en kapot!

Kyk hoe jou horlosie een sekonde aftik. Knip jou oog, en sien hoe vinnig God met die dood sal klaarspeel.

Die dood is daarmee heen …

Here, ek knip my oog. Ek leef! Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.