’n Natuurlike liggaam word gesaai, ’n geestelike liggaam word opgewek (1 Kor 15:44).
Kom ons vra weer die heel menslike vraag van die Korintiërs: “Hoe word die dooies opgewek? Watter soort liggaam sal hulle hê?” (1 Kor 15:35). Paulus probeer die misterie aan die hand van ’n beeld verduidelik. Hy vergelyk dit met ’n koringkorrel wat eers “begrawe” moet word voordat dit kan “lewe”, wat eers moet “sterf” voordat dit kan “opstaan”. Die koringkorrel wat in die grond verdwyn, lyk tog heeltemal anders as die koringplant wat daaruit groei. Dit het ’n heel ander gestalte – en tog kom dit nêrens anders vandaan nie as uit daardie einste koringkorrel (1 Kor 15:36-37).
Hierdie beeld leer ons veral twee dinge. Eerstens, die wesenlike van ons individualiteit sal op die opstandingsdag behoue bly. Die koringkorrel word nie ’n onkruidplant wanneer dit ontkiem nie! Net so bly ek nog ek. En jy steeds jy. Mense sal mekaar herken. Wat dit betref, word die geskiedenis nie uitgewis nie.
Aan die ander kant sal ons tog ook totaal anders wees! Met ’n verheerlikte liggaam, ’n liggaam deurdronge van die Lewe, van die Gees, ’n geestelike liggaam, noem Paulus dit in 1 Korintiërs 15:44. Met hierdie liggaam sal ons God tot in ewigheid kan prys en dien …
Miskien moet ons ’n slag in ’n tuin gaan stap. Na die blomme kyk. Hulle was eens vaalbruin saadkorrels, en kyk nou net! Rooi, pers, wit, geel … ’n lus vir die oog.
Só sal die opstanding wees.
Here, saai my. Oes my. Amen.