Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Ons staan saam op

Maar ons leef in die verwagting van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers (2 Pet 3:13).

Iemand het eenkeer aan die bekende Karl Barth gevra of ons in die hiernamaals ons gelowige geliefdes weer sal sien. Hy het met sy gebruiklike humorsin en ’n vonkel in die oog geantwoord: “Ja, en die ander ook!”

Ons kan weliswaar nie in enige besonderhede oor die opstandingsliggaam en die ewige lewe praat nie. Maar een ding weet ons: Ons gaan in gemeenskap met God en met al die ander gelowiges leef. Die geliefdes én die minder geliefdes! Ons sal mekaar as mense ken. Ons word op die opstandingsdag nie onpersoonlike wesens nie. Ons staan as individue op.

Maar ons staan ook op as volk van God. Want die opstanding is nie ’n individualistiese aangeleentheid tussen mens en God alleen nie. Ander mense staan saam met ons op. Ons gaan saam in die heerlikheid leef. Alle vertroebelde verhoudings sal versoen word. Daar sal ware vrede tussen mense wees. Geen jaloesie, agterdog, haat, wraak en misverstand meer nie. Dit sal ’n wêreld wees waar die wil van God sal heers (2 Pet 3:13), waar geregtigheid sal seëvier. En hiervan vorm die naasbestaan, die gemeenskap van gelowiges, ’n wesenlike onderdeel.

Hierdie gemeenskaplike element van die opstanding moet ons geloof versterk. Want ons sal die triomf van God se genade ook in ander mense se lewe sien. Ook in ons geliefdes se lewe. Dit sal die gesamentlike lof aan God soveel heerliker maak. Dit gaan ons soveel meer rede gee om Hom te dank.

Here, maak my opstandig teen die eensaamheid. Skep in my ’n verlange na die gemeensaamheid van al die gelowiges. Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.