’n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel (Heb 9:27).
Wat gebeur met ’n mens die oomblik as jy sterf? Wat ervaar jy? Hieroor is natuurlik deur die eeue heen baie bespiegel. ’n Mens hoor van mense wat wonderlike “nadoodse” ervarings gehad het. Terwyl ons nie die opregtheid van sulke mense of die egtheid van hulle ervarings wil bevraagteken nie, moet ons versigtig wees. Die Skrif praat van net een dood wat elke mens skuldig is. “’n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel” (Heb 9:27).
Ons het in elk geval nie bogenoemde ervarings nodig nie! Want die Skrif laat ons nie in die duister oor die lewe ná die dood en die eerste “oomblikke” ná die dood nie. Al weet ons nie alles nie, weet ons dít: Wanneer ons in Christus sterf, is ons “onmiddellik” in die heerlikheid by die Here; as ons sonder Christus sterf, is ons “onmiddellik” in die verderf sonder die Here. Jesus sê byvoorbeeld aan een van die misdadigers wat saam met Hom kruisig is: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees” (Luk 23:43).
’n Mens sou kon byvoeg dat die heerlikheid of verderf nog met die opstanding van die vlees afgerond moet word, dat daar dus ’n soort “tussentoestand” tussen ons dood en die opstanding is. Die belangrikste is egter om te weet dat ons as gelowiges, wanneer ons sterf, onmiddellik by die Here is.
En dit is meer as genoeg …
Vader, in u hande gee ek my gees oor. Amen.