“Ek is die Alfa en die Omega” (Op 1:8).
Die toekoms en wat dit kan bring, hou altyd vir ons iets geheimsinnigs in. Die toekoms lok ons soos ’n skoenlapper, maar bly altyd buite ons greep. Tog het ons ’n rol om te speel in die vorming van ons môres. Ons kan daaraan meewerk, en ons moet ook … maar niemand kan presies sê hoe alles oor ’n jaar, tien jaar, honderd jaar van nou af sal wees nie. Die toekoms is … die toekoms!
Rondom die bepaling van die toekoms is ’n hele “wetenskap” opgebou, die futurologie, wat strek van uit-die-lug-gegrypte-horoskope tot nugtere, wetenskaplik gefundeerde projeksies. Soms wens ’n mens byna dat jy, soos in die rolprente, ’n “tydmasjien” kon hê om die toekoms te besoek. Watter invloed sou dit nie hê op ons lewe van vandag, op ons beplanning vir môre, op ons ideale en ons leefstyl nie! Ons kennis van die toekoms sou die hede kleur …
Maar dít is presies wat die belydenis “Ek glo aan ’n ewige lewe” doen. Dit kleur ons toekoms. Tog bely ons nie daarmee net dat ons uitsien na “eendag” nie (dit natuurlik ook). Ons bely veral dat dit wat die Woord ons oor die toekoms leer vandag ons lewe kleur, ons manier van dink en doen beïnvloed. Die term ewige lewe het in die Bybel nie ’n uitsluitlik toekomstige betekenis nie. Dit dui op ’n werklikheid wat reeds in Christus geopenbaar is, wat verby ons huidige lewe en tot by “eendag” strek. Want God is die Een “wat is en wat was en wat kom, die Almagtige” (Op 1:8).
Dié Een wat in die verlede was, is ook in die hede … én in die toekoms. Hy is altyd daar. Daarom gaan ons die toekoms sonder vrees tegemoet.
Here, ek weet nie wat môre wag nie, maar ek weet Wie wag. Amen.