… as mense wat niks het nie, en tog besit ons alles (2 Kor 6:10).
Die kerkvader Calvyn het baie sterk gevoel oor wat hy die “bepeinsing van die toekomstige lewe” (meditatio futurae vitae) genoem het. Hiermee wou hy nie die teenswoordige lewe ontvlug of minag nie, maar dit juis in die regte perspektief plaas en diepte en waarde daaraan gee.
Om oor die toekoms te dink, het Calvyn gesê, lei tot “die lewendmaking van die sondaar in die hede”. As jy na die teenswoordige lewe kyk in die lig van die toekomstige lewe, word jou prioriteite gerangskik, kry jou hoop ’n gerigtheid, en leer jy om in die hede voor die aangesig van God te leef.
Hierdie verband tussen toekomsverwagting en huidige leefstyl tref ons deurgaans in die Bybel aan. Om ’n enkele voorbeeld te noem: Paulus kan aan die een kant sê dat gelowiges wat weet dat hierdie wêreld aan die verbygaan is, só moet aankoop dat hulle leef asof hulle niks besit nie (1 Kor 7:30), maar aan die ander kant soos mense wat niks het nie, en tog alles besit! (2 Kor 6:10). Wat jy koop – jou besittings – kan jy met dankbaarheid gebruik, maar dit mag nooit jou lewe vul nie. As dit van jou weggeneem word, moet jy steeds kan sê: “Ek besit alles … want ek besit die ewige toekoms by God!”
Dit geld vir ons hele lewe: beroep, familie, vriende, gawes, geld … Dit is wat die “bepeinsing van die toekoms” aan ons doen: Dit maak rykes armes en armes rykes.
Here, rig my op die toekoms, vandag. Amen.