Nou het ons ’n lewende hoop (1 Pet 1:3).
Om jou eindbestemming, die ewige lewe, te bepeins, soos Calvyn gesê het, raak die praktyk van ons alledaagse lewe. Wie arm is aan hierdie bepeinsing, is arm in alles. Die ironie is dat ons dikwels ons rykdom in ander dinge soek, of ons nadenke oor die toekomstige, ewige lewe uitstel na môre, en oormôre …
CS Lewis vertel in sy bekende boek The Screwtape Letters van ’n ou duiwel wat aan jong duiwels gevra het wat hulle dink die regte manier is om gelowiges op ’n dwaalspoor, weg van Christus, te lei.
Die eerste leerling-duiwel het voorgestel: “Sê vir hulle daar is nie ’n hemel nie.”
“Verkeerd,” het die ou duiwel geantwoord.
“Sê vir hulle daar is geen hel nie,” het ’n tweede een probeer.
“Weer verkeerd,” het die ou duiwel geantwoord, en toe voortgegaan: “Julle hoef hulle nie te probeer oortuig dat daar geen hemel of geen hel is nie. Al wat julle moet doen, is om hulle te laat dink daar is geen haas om tussen die twee te kies nie.”
’n Mens is nooit te jonk om oor die ewige lewe na te dink nie. Want die perspektief op die ewigheid help jou om jou huidige leefwêreld in die regte konteks te plaas – jou jeug of jou ouderdom, jou siekte of jou gesondheid, jou rykdom of jou armoede, jou ideale of jou teleurstellings. Petrus praat van ’n “lewende hoop” op die “onverganklike erfenis” wat in die hemel vir ons in bewaring gehou word (1 Pet 1:3-4).
Die sleutelwoorde hier is: nou en hemel. Oefen jouself in hierdie lewende hoop. Dink na oor die ewige lewe, die hemel, jou toekoms. En ontdek dat dit jou ryk maak, dat jou lewe daarvan vol word …
Here, maak my haastig … vir die hemel. Amen.