Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Seuntjie in die seesand

Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken (1 Kor 13:12).

Newton, die groot wetenskaplike, het kort voor sy dood die volgende geskryf: “Dit wil voorkom asof my lewe was soos dié van ’n seuntjie wat in die seesand speel en van tyd tot tyd ’n gladder klippie of ’n mooier skulpie vind en hom heeldag daarmee besig hou. Intussen lê die groot oseaan van waarheid onontgin voor my.” Ook Paulus moes toegee: “Nou ken ek net gedeeltelik …” (1 Kor 13:12).

En tog is hierdie kinderspel, hierdie gedeeltelike kennis van die mens, van die grootste belang, die sinvolste waarmee ons besig kan wees. Dit bring mee dat ons nou reeds die begin van die ewige vreugde in ons harte kan ervaar (Heidelbergse Kategismus, Sondag 22, Vraag 58). Al ken ons nou nog net ten dele, gee dit ons reeds ’n voorsmaak van die ewigheid.

Ons kan ons in ons tydjie op aarde nooit genoeg besig hou met die geopenbaarde kennis van God wat ons wel het nie. Ons kan nie genoeg in die Woord delf en oor die inhoud van die hoop nadink nie. En, as dit nou reeds so heerlik is, hoeveel te meer in die ewigheid! Ná hierdie lewe sal ons die volkome saligheid besit – “’n saligheid wat geen oog gesien, geen oor gehoor en in die hart van geen mens ooit opgekom het nie – om God daarin ewig te prys” (Heidelbergse Kategismus, Sondag 22, Vraag 58).

Wees dus maar ’n seuntjie in die seesand. Soek die klippies en die skulpies … In jou ore bruis die Ewige Oseaan.

Here, skenk my u vreugde in my soektog, al vind ek vandag net ’n korreltjie sand. Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.