Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Rom 8:28).
Die vraag waarom daar lyding in God se goeie skepping is, waarom party mense meer as ander ly, wat die sin van lyding tog kan wees, is sekerlik so oud soos die mensdom self. Alle mense vra die een of ander tyd: Waarom? Sonder dat hulle ooit “logiese” antwoorde op hierdie vraag ontvang. Die lydensvraagstuk het baie kante, maar vir gelowiges is daar tog die troos dat ons lyding, hoe onverklaarbaar ook al, nie buite God se heerskappy val nie en nooit heeltemal sal handuit ruk nie. Op ’n geheimenisvolle manier vorm dit ons ook … vir die ewige lewe.
Die Hebreërbrief praat só daaroor: “Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ’n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God” (Heb 12:11). En ons ken Paulus se bekende woorde aan die Romeine: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is” (Rom 8:28).
Van Ruler wys daarop dat die donkerste oomblikke in ons aardse bestaan die heerlikheid van die ewige lewe soveel groter sal maak. Hy stel dit poëties: “Die duisternis van die tyd is ’n moment in die lig van die ewigheid.” Die lig van die ewigheid is veel helderder as die donkerte van lyding, want dié duisternis is oorwin!
As jy dus swaarkry, skep moed en weet: Ek moet en ek kan hierdeur … na groter heerlikheid. Die donkerte hiér maak die lig daar vóór soveel helderder.
Here, verander my kwade vandag ten goede. Amen.