Hulle sal Hom sien … (Op 22:4).
Daar is meer aan die lewe as dit wat ons kan sien.
Dié dieper dimensie kan so maklik misgekyk word as ’n mens nie weet waar en hoe om te kyk nie. Soos die wurmpie wat aangekruip kom by ’n poeletjie water wat geen in- of uitloop het nie omdat dit gevorm is deur die reën van bo. Hy verwonder hom oor die poel. Hy kan dit nie verstaan nie. Waar kom dit vandaan? wonder hy. Want as wurmpie leef hy slegs op ’n plat vlak, in een dimensie. Dat daar ’n ander dimensie kan wees, die een na bo, is vir hom totaal vreemd en geheel en al onsigbaar …
Só is dit ook met ons. As ons die lewe slegs eendimensioneel probeer verklaar, stuit ons telkens voor onverklaarbare vrae. Want dié lewe het ook ’n dimensie na Bo. Trouens, die ganse lewe is deurdronge van hierdie dimensie, van die ewige lewe.
Die Suid-Afrikaanse teoloog Johan Heyns het altyd vir sy studente gesê: “Die ewigheid is hier by ons, net hier anderkant; dis net in ’n ander dimensie, daarom kan ons gewone oë dit nie sien nie. Maar dit ís daar.”
Jesus het dit kom openbaar. Ons kan nou al iets daarvan sien, al is dit gedeeltelik. En eendag sal ons dit in volle heerlikheid sien. Belowe die Skrif dan nie dat ons eendag “alles sal sien soos dit werklik is” nie (1 Kor 13:12)? Dat ons Jesus sal sien soos Hy werklik is nie (1 Joh 3:2)? Dat ons God sal sien nie (Op 22:4)?
Ons voel soms dat ons in plat dimensies vasgeloop is, dat ons die oorsprong en die uiteinde van alles nie verstaan nie. Maar hou moed, wurmpie, daar ís ’n Bo …
Here, as ek vandag platgeslaan word deur omstandighede, help my om verder as die vloer onder my te kyk. Amen.