“Kyk, Ek maak alles nuut” (Op 21:5).
Die vrou van ’n vermoorde sendeling het eenkeer ’n roerende getuienis gelewer. Sy het dit gedoen in dieselfde kerkie waar haar man Sondag na Sondag gepreek het, en wat deur terroriste verwoes is in die aanval waarin haar man omgekom het. Sy het gewys na die pragtige gebrandskilderde venster agter in die kerk. “Daardie venster,” het sy vertel, “is tydens die aanval aan skerwe geskiet. Toe my man gesterf het, was dit asof my lewe, soos daardie venster, onherroeplik stukkend was, in fragmente gesaai oor die grond, vertrap … Iemand uit die gemeente het egter die volgende dag gekom en die stukkies glas van die venster kom optel, dit oor weke heen met groot geduld geheg en ’n nuwe, selfs mooier venster uit die skerwe gevorm. Só het Iemand – God – my lewenstukkies opgetel en sy beeld in my gevorm, mooier as ooit tevore!”
Die mens is breekbaar, gebroke. Die lewe is broos. Soms beland ons in ’n stukkende hopie op die vloer. Maar ons kan weet: Deur dit alles heen, in dit alles, is God besig om alles te vorm, voor te berei vir die pragstuk van die ewige lewe. Hy wat op die troon sit, sê: “Kyk, Ek maak alles nuut” (Op 21:5).
Laat toe dat Hy jou optel …
Here, al wat ek kan bied, is die skerwe van my lewe. Vorm my vir u toekoms. Amen.