Ek het gesien daar staan ’n troon in die hemel en op die troon sit daar Iemand (Op 4:2).
Kyk jy bloot na die uiterlike aspekte van die geskiedenis het jy genoeg rede tot wanhoop. Want meestal lyk dit asof die geskiedenis bestaan uit die een noodtoestand ná die ander, uit die een krisis wat soos ’n golf op die ander volg. Oorloë volg mekaar snel op, selfs al het ons ver gevorder op die pad van “beskawing”; ten spyte van ons tegnologiese vooruitgang tref onbeheerbare natuurrampe steeds die aarde; hongersnood kom steeds voor en word daagliks meer omvangryk. Mense en regerings maak weer en weer dieselfde foute. Dit is feitlik onmoontlik om in die geskiedenis ’n lyn, ’n ritme, ’n patroon waar te neem.
En tog is dit daar! Deur al hierdie dinge heen is God se koninkryk aan die kom. Niks of niemand, geen mens, mag of moondheid, kan dit stuit nie.
Maar om dit raak te sien, het jy meer as “gewone oë” nodig. Dit vra van jou geloofsvisie. Om in die warboel van die geskiedenis die Een raak te sien wat op die troon sit (Op 4:2), Hy wat die Koning van die konings en die Here van die heersers is, vra van jou geloofsinsig. Hy vra van jou om te onthou Wie op die troon sit, selfs al staan jy op die rand van die graf …
Nee, die geskiedenis is nie soos ’n motor wat buite beheer geraak het en in dolle vaart op ’n afgrond afpyl nie. Al lyk dit so. Daar is Iemand aan die stuur van sake. Ook van jou lewe. Sy Naam is God. Die Almagtige.
Here, open my oë om dieper te kyk as die chaos voor my. Amen.