Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Sirkusleeu

Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind (1 Pet 5:8).

Jesus het deur sy opstanding oor die Bose getriomfeer. Die Bose kan dalk nou nog met groot listigheid en geweld die geskiedenis beset en kragvertonings lewer. Maar dis net ’n kwessie van tyd … dan word die Bose se laaste tentakels uit die wêreld getrek en hy sal nie eens meer ’n sweempie invloed hê nie. Ons moet dit altyd onthou wanneer ons oor die Bose en sy trawante se verwoestingswerk in hierdie wêreld dink. Hulle is reeds oorwin, en die oorwinning sal aan die einde slegs bevestig word.

Op 6 Junie 1944, tydens die Tweede Wêreldoorlog, het die Geallieerdes in Normandië aan die Europese vasteland geland. Almal het geweet dit beteken dat die oorlog verby is, dat Hitler en sy trawante se mag gebreek is. Maar dit sou nog maande se opruimingswerk, ’n paar hewige veldslae en talle menselewens kos voordat dit voor die oë van die wêreld bevestig is. Só is die duiwel reeds oorwin. Ons lewe in die tyd van sy laaste stuiptrekkings. Maar daar kom ’n dag wanneer die duiwel en sy trawante in die poel van vuur en swael gegooi sal word. Daar sal hulle dag en nag gepynig word, tot in ewigheid (Op 20:10).

Ja, ek weet, die Bose is nou nog ’n brullende leeu op soek na iemand om te verslind (1 Pet 5:8). En tog is hy reeds geboei om in die duisternis gevange gehou te word vir die oordeel (2 Pet 2:4). Ons moet versigtig wees vir hom, nugter en wakker, en dit nie te naby aan hom waag dat hy ons kan beetkry nie. Hy is gevaarlik … maar agter tralies, geboei. Jesus se kruis en leë graf het dit gedoen.

Daarom is hierdie brullende leeu eintlik maar ’n sirkusleeu.

Here, keer my om te naby aan die tralies van die sirkusleeu se hok te kom. Laat my naby aan U bly. Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.