Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Reisigersrus

Maar julle het wel gekom by Sionsberg en die stad van die lewende God (Heb 12:22).

Die Hollandse teoloog Bavinck het geskryf: “Hierdie wêreld is nie heeltemal ’n hel nie, maar dit is darem ook nie hemel nie.”

Om by die eerste deel van hierdie aanhaling te begin: God se genade is so groot dat ons, veral as gelowiges, te midde van die sondige verval van hierdie wêreld baie kan ervaar van God se goedheid en troue sorg. Van tyd tot tyd gee die Here aan ons wonderlike belewenisse, tye waarin dit vir ons voel of ons die glans van die hemel op aarde kan sien skyn. Dit kan tydens ’n sonsondergang wees, in ’n gelukkige oomblik saam met ’n geliefde, tydens ’n erediens of in ’n boek waarin die Here met jou praat. Dit is oomblikke waarin jy weet: Ek het “gekom by Sionsberg en die stad van die lewende God, dit is die hemelse Jerusalem met sy miljoene engele, die feestelike samekoms, die vergadering van die eersgeborenes wie se name in die hemel opgeteken is” (Heb 12:22-23). Só voel dit.

En tog is ons nog nie daar nie. Hierdie wêreld is nog nie die hemel nie. Ons het nog nie gearriveer nie. Ook as gelowiges beleef ons wat Totius gedig het: “Die wêreld is ons woning nie.” Ons woning is in die hemel (2 Kor 5:1). Dit moet ons dankbaar maak vir al die goeie dinge wat ons uit God se hand ontvang.

Maar dan só dat ons nie aan die dinge self verknog raak nie, maar aan die Gewer daarvan. Ons is reisigers wat wel af en toe kan rus en geniet, maar hoofsaaklik is ons op pad en kyk ons vorentoe …

Here, laat my só rus dat ek met nuwe krag verder kan reis. Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.