Op dié dag sal die hemel met ’n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame brand en tot niet gaan, en die aarde met alles wat daarop is, vergaan (2 Pet 3:10).
Die bekende humoris Mark Twain en ’n vriend van hom het eenkeer gesels oor ’n ernstige en neerdrukkende saak: die agteruitgang van die wêreld. Die vriend het gesê: “Ek is ontsteld. Die wêreld stuur af op sy einde.” Mark Twain het geantwoord: “Moenie dat dit jou ontstel nie. Ons kan sonder hom klaarkom!”
Behalwe dat dié antwoord, soos goeie humor gewoonlik doen, die somber stemming waarskynlik ’n bietjie opgeklaar het, laat dit ’n mens ook dink … Aan die een kant weet ons dat ons nie sonder hierdie wêreld kan klaarkom nie; dis tog die grond onder ons voete, die enigste plek waar ons kan bestaan. Ons as gelowiges mag hierdie wêreld nie prysgee, afskryf of minag nie. Aan die ander kant weet ons ook dat hierdie aarde nie ons uiteindelike bestemming is nie, dat hierdie aarde plek moet maak vir die nuwe. Hierdie eerste hemel en die eerste aarde sal verdwyn wanneer “die hemelliggame brand en tot niet gaan, en die aarde met alles wat daarop is, vergaan” (2 Pet 3:10).
Het Mark Twain iets hiervan aangevoel toe hy spottend gesê het ons kan sonder hierdie wêreld klaarkom? Ek weet nie. Ons kan egter sy raad aan sy vriend ter harte neem. Al dra ons beslis verantwoordelikheid vir die wêreld, hoef ons ons nie uitermate te ontstel oor die gang van sake nie. Want God kan en sal uit hierdie wêreld ’n nuwe een skep …
Here, plant my voete op hierdie aarde. Maar bind my hart aan die nuwe aarde. Amen.