Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

God se revolusie

En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom (Op 21:2).

Baie wetenskaplikes meen ons sal met ons kennis van die wetenskap en ons tegnologiese vooruitgang uiteindelik ’n utopie, ’n hemel, op aarde kan skep. Blaise Pascal, die l7de-eeuse wetenskaplike en filosoof, het in sy tyd reeds daarop gewys dat die versamelde kennis van die mensdom elke tien jaar verdubbel. Baie meen daarom dat dit net ’n kwessie van tyd is voordat ons alles uitgeskakel het wat die aarde nou nog onvolmaak maak, soos siekte, oorloë, rassespanning, natuurrampe, hongersnood, selfs die dood. Uiteindelik sal die mens, so glo baie, by wyse van evolusie (of revolusie!) die paradys skep waarna ons so smag.

As gelowiges is ons dankbaar vir elke vooruitgang wat die wetenskap maak in die bestryding van siekte, konflik, lyding en die dood. Natuurlik! Tog weet ons ook: Die volmaakte moet as gawe van God aan ons gegee word. Ons gaan dit nie self regkry nie. Die geskiedenis gaan nie gladweg uitloop op die ewigheid nie. Nee, daar kom ’n breuk, ’n ingrype van Bo, wanneer die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit afkom (Op 21:2).

Dit gee aan ons wat glo ’n verwagting, ’n sekerheid, wat ongelowige, “moderne” en “verligte” mense nooit kan hê nie. Want ons verwagting is gegrond op die beloftes van God. En Hy sal ons nooit in die steek laat nie. Hy sál ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gee …

Vader in die hemel, laat u koninkryk kom! Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.