Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie (1 Kor 9:26).
Die Bybel vergelyk dikwels ons geloof met ’n wedloop (Heb 12:1). Paulus was besonder lief vir hierdie beeld en hy sê onder meer die volgende daaroor: “Weet julle nie dat atlete wat aan ’n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan so dat julle die prys kan wen. Almal wat aan ’n wedstryd deelneem, ontsê hulleself allerlei dinge. Hulle doen dit om ’n verganklike oorwinnaarskroon te verkry, maar ons ’n onverganklike. Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie” (1 Kor 9:24-26).
Aan die een kant weet ons dat die ewige lewe ’n gawe van God is, dat ons dit sonder ons toedoen, uit genade, ontvang. Aan die ander kant word ons geroep om daarna te reik, om in die rigting van die wenstreep van die ewigheid te hardloop. Dit vra van ons toewyding en inspanning, soms bloed, sweet en trane. Ons word soms geestelik moeg en wil uitsak (Heb 12:3).
Van hierdie wedloop weet ons egter twee dinge. Eerstens, Jesus is by ons, en Hy is die Begin en Voleinder van ons geloof (Heb 12:2), en hierdie inspanning is net moontlik deur sy krag in ons. Tweedens, die wenprys is onuitspreeklik groot en heerlik! Paulus noem dit ’n onverganklike oorwinnaarskroon …
Tel dan jou voete op. Daar wag ’n kroon.
Here, help my om vandag, wanneer my bene lam word, te dink aan my kroon – en te hardloop.