Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Só … maar ánders

Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding (Rom 8:25).

Ons almal wil graag weet hoe lyk die uiteindelike heerlikheid van die ewige lewe. Die Bybel gee nie vir ons ’n beskrywing met baie besonderhede nie. Wanneer Johannes daar op die eiland Patmos die ewige lewe in die boek Openbaring opteken, is dit hoogstens met ’n paar penstrepe, en meestal in beelde. Want ons moet weet: Ons kan dit onmoontlik in mensetaal beskryf. Daarom pas dit ons om, soos Johannes, slegs in beelde uitdrukking te probeer gee aan die heerlikheid van die ewigheid. Met ons beelde sê ons: Die heerlikheid is iets sóós dít … daar is ’n gelykenis, maar tog ook ’n totale ongelykenis … daar is kontinuïteit, maar tog ook diskontinuïteit. Dis so iets … maar ánders, groter, heerliker!

Weens die onbeskryflikheid van die ewigheid moet ons ons daarvan weerhou om in te konkrete terme oor die ewige lewe te wil spekuleer. Calvyn het al vermaan dat ons nie te nuuskierig moet wees oor die hoe en die wat van die ewige lewe nie, maar dat ons eerder moet sorg dat ons nou reeds die weg daartoe vind en met volharding daarop gaan.

’n Tweede voordeel van die onbeskryflikheid en geheimenis van die ewigheid is dat dit die lewende en volhardende hoop by ons lewend hou, want: “Wat ’n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? Maar as ons hoop op wat ons nié sien nie, wag ons daarop met volharding” (Rom 8:24-25).

Die vraag is: Is jy op die weg na die ewige lewe? Volhard jy in die hoop?

Here, volhard U tog met my. Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.