Boodskap vir Vandag

Search

Blind soos molle?

En die wêreld met al sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe (1 Joh 2:17).

Die fyner besonderhede van ons ewige toekoms kan ons met ons beperkte menslike sig nog nie uitmaak nie. “Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld” (1 Kor 13:12). Ons staan as’t ware op die punte van ons tone om oor die vensterbank van die hede die toekoms in te loer. Ons menslike oë is nie geoefen vir dié soort sien nie. Eintlik kort ons ander oë … nuwe sig om die heerlikheid te aanskou.

En tog … kán ons sien!

Natuurlik kan daar tye kom dat die kerk sy toekomsperspektief verloor en letterlik en figuurlik die toekoms uit die oog verloor. Wanneer die gebeurtenisse en veral die skuld van die verlede ons oë blind maak vir die toekoms. Of wanneer die krisisse van die hede ons daarvoor afstomp. Wanneer veral die aanloklikhede van die hede, die plesier van die uur, die wêreld en die dinge van die wêreld – “alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit” (1 Joh 2:16) – ’n rookskerm tussen ons en ons toekoms opwerp. Niks is meer bejammerenswaardig as ’n kerk wat in die kokon van die hede en in die greep van die wêreld vasgewikkel geraak het nie.

Dit is ’n baie werklike gevaar. Want die dinge van die wêreld, self die mooi dinge van die lewe, kan ons so blind soos molle maak. Sodat ons nie eens meer ’n raaiselagtige beeld in ’n dowwe spieël sien nie. Sodat ons nie eens meer oor die vensterbank van die hede die toekoms in tuur nie. Ons ontwikkel ’n bysiendheid wat slegs oë vir die hier en die nou het.

Maak dan jou oë oop. Ons kan nie alles sien nie. Maar ons is nie blind nie. Ons kan baie sien. Laat dit wat jy sien jou bly maak, jou hoop gee.

Here, neem my blindheid weg sodat ek dat my blink toekoms sien. Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.