Die dood sal daar nie meer wees nie (Op 21:4).
Ons sien in hierdie gedeelte nie alles van ons toekoms nie, maar ons sien baie. Wat? Wel, die eerste wat ons van die heerlikheid sien, is wat ons nié sien nie! Dinge waarmee ons wêreld maar alte goed bekend is – leed, smart, pyn, die dood, trane (Op 21:4) – dit is nie meer daar nie! Maar meer nog, en ontnugterend: Daar is mense wat ook nie daar gesien sal word nie. Van sommige sou ons dit dalk kon verwag – dié wat openlik teen God in opstand was, die nasies wat in hulle wilde gewoel, en aangeblaas deur die Bose en sy trawante, die volk van God bedreig en vervolg het. Johannes noem hulle in simboliese taal “die see” (Op 21:1). Die “see” – met sy onstuimige branders, sy gevare, sy bedreigings – sal nie meer bestaan nie. Al wat ons daar sal sien, is ’n spieëlgladde see, helder soos kristal voor die troon van God (Op 4:6). Die Bose is letterlik platgevee; die woeste waansin van die geskiedenis verander in vrede, vrede …
Maar daar is ook ánder mense wat nie daar sal wees nie – mense wat ons dalk daar verwag het … Mense wat aanvanklik en oënskynlik tot die volk van God behoort het, wat geroep is tot dié heerlikheid – en dit tog versmaai het. Dit is dié mense, sê Johannes, wat goed begin het, maar toe die vervolging kom, het hulle bang en ontrou geword; mense wat in hulle diepste wese steeds losbandiges, moordenaars, onsedelikes, bedrieërs, afgodsdienaars en leuenaars gebly het. Hulle uiteinde is onbeskryflik verskriklik. In beeldetaal heet dit “die poel wat met vuur en swael brand”, die tweede dood (Op 21:6-8).
Mag God gee dat ons veral dít nie sien wanneer ons in óns toekoms inkyk nie …
Here, gee dat ek my nie blind staar teen wat nié sal wees nie. Amen.