Boodskap vir Vandag

Search

Ons hét dit

“En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken” (Joh 17:3).

Kom ons onderbreek die afgelope paar dae se beskrywing van die toekomstige heerlikheid van die ewige lewe … en beklemtoon: Die ewige lewe begin in die hede! Meer presies, dit begin vir my en jou wanneer ons ons geloofsvertroue in Jesus Christus plaas. Die ewige lewe is nie slegs ’n plek- of ’n tydsaanduiding nie, maar veral ’n verhouding – met die Draer en Gewer van die lewe.

In sy gebed tot sy Vader sê Jesus oor Homself: “U het Hom [Jesus] immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee. En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is” (Joh 17:2-3).

Ferdinand Deist het dit eendag só geformuleer: Wie in Christus glo, wie in Hom bly, wie deur Hom aangestel is in en vir die liefde, het die ewige lewe. Daarom is die ewige lewe nie eendag nie. Die ewige lewe is nie ánderkant die graf nie Want hoe sou ons die ewige lewe kon hê (1 Joh 5:11-13) as dit eers anderkant hierdie lewe begin? Nee, die ewige lewe is hiér, net hier waar ons vandag is. As jy in die liefde van Christus is, hoef jy nie te hoop op die ewige lewe nie, want dan het jy dit, nóú.

Ja, die ewige lewe is geopenbaar in Jesus, die eniggebore seun van God. In ’n stal in Betlehem, op die eerste Kersnag …

Dit is hier. Ons het dit reeds.

Het dit al vir jóú begin? Het jý dit?

Here, ek hét dit. Want ek hét U en U hét my. Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.