“Kyk, Ek maak alles nuut” (Op 21:5).
In sy Openbaringboek laat Johannes ons eers sien wat ons nié sal sien nie. Maar wat laat hy ons dan wél sien van die ewige heerlikheid? Te veel om op te noem! Maar hier is ’n paar van die dinge wat ons wel sal sien.
Eerstens die fontein met die water van die lewe waaruit dorstiges verniet kan drink (Op 21:6). Dit is ’n simbool van die ewige lewe in sy onuitputlike heerlikheid, sy gawe van nimmereindigende versadiging. Dan is daar die heilige stad, die nuwe Jerusalem, gereed “soos ’n bruid wat vir haar man versier is” (Op 21:2). Dit is die ewige woonplek van die volk van God, ’n gawe van Bo, deur God gegee. Die stad word simbolies geteken met pêrelpoorte en strate van suiwer goud, blink soos ’n spieël (21:9-27). Die skittering van dit alles wil jou jou oë laat bedek … Nee, laat kyk! Aanhou en aanhou kyk! Waarlik, die dinge van vroeër het verbygegaan. Die eerste hemel en die eerste aarde moes plek maak vir ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde! Alles is nuut gemaak (Op 21:1, 4-5)!
Kan ’n mens dit alles in woorde beskryf? Beswaarlik. Daarom gebruik Johannes beeldspraak. Want mense kan slegs stotter en stamel oor die ewige heerlikheid, die ewige geborgenheid, ewige versadiging, ewige vreugde, ewige lof, ewige dankbaarheid … Dit klink soos ’n sprokie, soos ’n droom, maar … Dit is waar! So seker as wat die hele heilsgeskiedenis wat dit vooraf gegaan het waar is. So seker soos God se beloftes.
En die wonderlikste is: Dis vir ons, God se kinders. Begenadigdes.
Here, my woorde is te min. Dankie, ’n miljoen maal, dankie! Amen.