“Kyk, die woonplek van God is nou by die mense” (Op 21:3).
Wanneer Johannes ons in Openbaring laat deel in sy visioen van die einde, laat hy ons onbeskryflike en wonderlike dinge sien. Maar tot dusver het ons die belangrikste nog nie gesien nie.
Kan daar dan meer wees? Ja!
Toe ’n bekende teoloog op sy sterfbed gesê het, het sy vriende en familie hom probeer moed inpraat met verwysings na die heerlikheid wat hy binnekort sou smaak, die pêrelpoorte, die strate van goud, die engele … Ná ’n tydjie het hy hulle onderbreek en gesê: “Ja, dit is wonderlik. Maar vertel my eerder van die Een wat daar gaan wees.” Want sien, die dinge wat so wonderlik is, verkry slegs hulle skoonheid van Hom, van God wat op die troon sit (Op 21:5).
Wanneer ons in ons ewige toekoms inkyk, sien ons bo alles … vir God! Johannes hoor in sy visioen ’n harde stem van die troon af wat sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly: hulle sal sy volk wees, en God self sal by hulle wees as hulle God” (Op 21:3).
Kan enige belofte mooier wees as dit? Om God te sien, om vir ewig by Hom te bly en Hy by ons? Hierna het die gelowiges van die Ou en Nuwe Testament uitgesien, verlang, gehunker. Hierop stuur die hele heilsgeskiedenis af. Dit is die fokuspunt van ons hoop. Dan sien ons alles soos dit werklik is (1 Kor 13:12). Dan loer ons nie meer oor die vensterbank van die hede die toekoms in nie, maar is ons dáár.
Dan sien ons die glans, die glorie … God! Voorwaar, dít is die ewige lewe.
Here, die hemel is U. Bly by my. Amen.