Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Amen! Halleluja!

Die vier en twintig ouderlinge en die vier lewende wesens het gekniel en God aanbid wat op die troon sit. Hulle het gesê: “Amen! Halleluja!” (Op 19:4).

Kan ons nóg meer oor die ewige lewe sê as dat dit liefde, vreugde, rus, diens en lof is?

Die kerkvader Augustinus het tog nog iets bygevoeg. Hy het gesê die ewige lewe bestaan uit die uitroepe “amen” en “halleluja”. Presies dit hoor ons wanneer die vier en twintig ouderlinge (’n beeld van die kerk) en die vier lewende wesens (’n beeld van die totale skepping) neerkniel en God wat op die troon sit, aanbid. Hulle roep uit: “Amen! Prys die Here! Halleluja” (Op 19:4, 1933/1953-vertaling).

Amen beteken hier “wat God gedoen het, is waar”. Ons ganse aardse bestaan, en veral ons verlossing, is nie ’n illusie of ’n droom nie; dit is ’n werklikheid. Kersfees, Golgota, Paasfees en Pinkster is ’n heilshistoriese feit. God het dit gedoen! In die ewigheid sal ons terugkyk en dit beaam. Ons sal dit as waar en wonderlik bevestig.

Daarom is die ewige lewe ook om halleluja te sê! Dit beteken: “Loof God! Prys die Here!” Wie werklik amen sê, wie terugkyk en alles sien wat God vir ons gedoen het, sal nie anders kan nie as om vorentoe en boontoe te kyk en in danksegging en lofprysing los te bars …

Dít gaan ons in die ewigheid doen.

Maar, ook hiervoor hoef ons nie tot “eendag” te wag nie. Vandag, Oujaarsdag, bied ’n goeie geleentheid om oor ’n vergange jaar terug te kyk, en vorentoe oor ’n jaar wat kom, en boontoe na Hom wat op die troon sit, en te jubel: “Amen! Halleluja!”

Here, God Almagtig! Amen! Halleluja!

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.