Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

In die Here se hand

Lees Jesaja 62:1-3.

Die Here sal jou soos ’n sierlike kroon in sy hand hou (v 3).

Die eerste dag in ’n nuwe jaar bring altyd ’n spesiale tinteling met hom saam – daar is immers die moontlikheid van nuwe dinge. En daarom is Jesaja 62 se eerste verse straks die ideale teks om die jaar mee te begin.

Vir Ou Israel was daar in daardie tyd geen “goeie ou dae” om aan terug te dink nie; daar was bloot vernedering, swaarkry, woede, verydeling, uitsigloosheid. Dit was ’n tyd wat hulle dikwels omge­wens het, wat hulle bloot agter die rug wou kry, in die vae hoop dat iets beters op hulle wag. Slegter kon dit sekerlik nie gaan nie …

En hier sê die profeet wat hulle gesmag het om te hoor: Daar kom inderdaad ’n nuwe dag! ’n Dag vol helderheid en redding. Almal sal dit sien, hierdie nuwe moontlikhede in jul lewe.

Julle sal ook hoor dat julle ’n nuwe naam het. Niemand sal julle dus meer Teleurgesteld kan noem nie, en julle sal nie meer soos vroeër reageer as die ander julle as Beswaard! uitlag nie.

Dié nuwe naam is deur die Here self aan julle gegee. Voortaan heet julle Kosbaar. Kyk hoe styf hou Hy julle vas! En voel hoe ver­sigtig dra Hy julle rond.

Ja, dinge is heel anders by hierdie eerste tree van die nuwe begin. Juis vir julle, kosbare Koningskinders, wat in die Vader se hande leef en daar tot rus kom. En wat van daar af jul oë groot ooprek om behoorlik te kan uitsien na die jaar wat kom.

Here, dra my mooi in die nuwe jaar, asseblief. U weet mos hoe broos ek is. Gee my tog die rus en vrede waarna ek so smag, en blink oë as dit kan.

– Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.