Boodskap vir Vandag

Search

Vrygemaak!

Lees Eksodus 20:1-11.

“Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het” (v 2).

Dit is Hy wat hier praat, die God van bevryding. Daarom is daar geen kwessie nie: “Jy mag naas My geen ander gode hê nie” (v 3).

Dit sou die deurlopende tema vir die eerste vier gebooie bly: Daar is geen ander God nie. Moenie dink jy kan ’n boomstomp netjies kerf of ’n klip glad skuur en dit God noem nie. Dit sal nooit God wees nie, dit kan onder geen omstandighede God word nie.

Daarom mag jy nie Hy-wat-God-is se Naam vir jou en jou agenda toe-eien nie. Nee, sy Naam is heilig en nie ’n gebruiks­artikel om krag aan jou gebrekkige, bloedarmoedige woordeskat toe te voeg nie. Dit is nie ’n sweerformule om gesag aan jou argu­mente te verleen nie. Sy Naam is nie ’n mantra om guns te wen en aansien te verwerf wanneer jy dit oral rondstrooi om ander te beïndruk of om jou eie bygeloof te voed nie.

Moet tog nie vergeet wie Hy is en wat Hy vir jou doen nie. Sy immer-teenwoordigheid in jou lewe is ’n durende, onvermengde seën. Erken dit, onthou dit en vier dit. Elke dag. Wees dankbaar as jy in die situasie is waar jy ’n hele rusdag in die week tot jou beskikking het om juis dit te doen. Laat jou doen en late op daar­die dag sê: Dankie, Here, vir u sorg!

Die boodskap van hierdie gebooie is eenvoudig: Die enigste God het jou vrygemaak. Ook van jou beheptheid met mense se goedkeuring en besittings se suigkrag. En van jouself. Eer Hom daarvoor, ook deur jou in godsnaam nie weer te laat verslaaf nie.

Ek is u vrygemaakte kind. U is my Vader. U sorg dag na dag. Ek eer u Naam.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.