Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Die hemel getuig

Lees Psalm 19:2-7.

Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend (v 2).

Die ou geloofsvaders het gesê ’n mens kan God deur sy Woord én deur sy skepping leer ken. Vir sommige mense is die Woord deurslaggewend: Hier hoor jy die Here se stem en só verneem jy sy voorskrifte. Dit is die bron van jou troos, hier leer jy hoe om te lewe. Dit is die lig op jou pad en die lamp vir jou voet.

Hierdie begenadigde mense lees die Woord maklik en gereeld. Hulle verstaan wat hulle kan verstaan en gaan soek na ’n verkla­ring vir die moeilik verstaanbare gedeeltes. God se Woord is vir hulle vertroude en betroubare leesstof. Tussen die voosgevatte bladsye leer hulle God ken, in soverre Hy Hom laat ken.

Daar is wel ook dié wat om ’n verskeidenheid redes moeiliker aan ’t Bybellees kom, indien hoegenaamd. Dalk kan hulle nie, dalk wil hulle nie. Straks het hulle lankal opgegee met hierdie ou, stowwerige klomp geskrifte. Vir hulle is die Bybel vir alle praktiese doeleindes ’n geslote boek.

Hierdie Bybelarmes sal God op ’n ander manier moet leer ken, as ons die ou vaders wil glo. Hulle sal moet luister as die hemel getuig. Hulle sal diep in die uitspansel moet intuur om iets van God te sien.

Ag, dalk nie só diep nie. Dalk moet hulle bloot die boodskap van die dag-en-nag-wisseling ter harte neem, die son se stralende hemelreis dophou. As jy ’n oog daarvoor ontwikkel, sal jy waar­skynlik ook die hand daaragter kan raaksien en sy spoor in die melkweg volg. En jou sy krag kan verbeel.

Wie God só leer ken, ken Hom beter as baie.

Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde! Hoe glansryk is u majesteit.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.