Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Die woord van die Here

Lees Psalm 19:8-15.

Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe (v 8).

Dit is geseënde mense wat hul vreugde en vrede in God se woord vind. Hulle hoor duidelik as Hy daaruit met hulle praat. Hulle het geleer om fyn te luister.

Hulle weet ook dat niks hieraan vanselfsprekend is nie. Hulle is, inteendeel, terdeë daarvan bewus dat dit ’n onbeskryflik groot ge­nade is om God se stem só te mag hoor. Dit is nie almal beskore nie.

Hulle kan hulle vereenselwig met die psalmdigter se sterk uit­sprake oor die Here se opgetekende woord, met woorde soos “vol­maak”, “betroubaar” (v 8), “helder” (v 9), “goed” en “reg” (v 10). Soos die digter, weet hulle ook dat die woord van die Here lewe gee, dit bring wysheid, dit dui die regte koers aan, dit gee insig. Boonop staan dit altyd vas.

Maar dalk is dít die belangrikste uitwerking wat hierdie woord op die lesers daarvan het: Die Here se dienaars laat hulle daardeur leer. Op hierdie manier besef hulle dat hulle nie alle wysheid in pag het nie. Dat soveel dinge, ook in hulleself, steeds vir hulle verborge is. Só leer dit hulle beskeidenheid, afhanklikheid, iets van hul eie broosheid. Die voorlopigheid van hul verstaan.

Só dryf die woord hulle terug na God, soos dit sekerlik hoort. Nadat hulle Hom aangehoor het, lui hul gebed uiteindelik só: “Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here …” (v 15).

Inderdaad: Aan die Here se woord word ons woorde en gedag­tes gemeet, geweeg. En deur hierdie Woord word ons reggehelp.

Here, ek hoor U skaars; my ore is so toe. Praat tog hard en duidelik met my. Help my reg.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.