Lees Numeri 21:4-9.
Op pad daarheen het die volk ongeduldig geword en teen God en Moses uitgevaar … (v 4-5).
Soos heelparty Ou- én Nuwe-Testamentiese verhale laat ook hierdie een sommige hedendaagse Christenlesers effens verleë. Nie oor die wondergenesings nie, nee. Die meeste van ons lewe al lank genoeg om heelparty van God se wonderwerke te kon aanskou, juis ook dié in hospitale en langs siekbeddens tuis.
Die probleem lê eerder by die rede vir die slange se skrikbewind: Die Here het hulle gestuur, sê die Numeriskrywer. Klaarblyklik omdat die trekkers ontevrede was oor die kos.
Sjoe. Dit is darem maar … kwaai! ’n Groot reaksie op ’n klaery oor kos – of hoe? Moet ons dan liefs vinnig verbyblaai en ’n geskikter leesgedeelte in die verhaal gaan soek, een wat by ons idee van God sal pas? Liefs nie. Ons weet dat dit oneerlik is. Kom ons kyk eerder na wat hier voor die hand liggend is. Na die tipiese verhouding wat die ou trekvolk met hul God sou hê: ontevredenheid – ondankbaarheid – straf – berou – vergifnis.
Op die keper beskou, is dit nie soveel anders as wat deur die eeue heen tussen gelowiges en God gebeur nie. Hoe goed ken ons nie óns ondankbaarheid en ontevredenheid nie. Hoe skoorvoetend is ons berou nie; dikwels ontbreek dit heeltemal. Wat ’n verleentheid om dit hier te moet sê …
Maar die vreemdste is dit: Sedert Christus is daar die nouste moontlike verband tussen straf en vergifnis. Hy het eersgenoemde gedra, onskuldig. Hiermee het Hy laasgenoemde verwerf, en dit verstommend genoeg uitgedeel aan dié wat gestraf moes gewees het.
Here, ek kyk op na U. Skuldig, tot die dood toe verleë. Maar … dankie vir Jesus.
Barend Vos