Lees Efesiërs 2:1-3.
So het ons trouens vroeër ook almal gelewe (v 3).
Paulus is toe nie een van daardie vingerwysende predikers wat net “julle! julle! julle!” nie; hy wys ook na homself, en sê “ons”.
Dit is sekerlik soos dit hoort wanneer daar van “oortredings en sondes” (v 1) sprake is. Wie reken dat hulle mag buk om die eerste klip op te tel, moet liefs begin koes vir die regspraak van ’n hoër gesag.
Daarom is dit vreemd dat gelowiges, van alle mense, so graag oordeel en veroordeel. Maklike menings oor al wat leef en beef het én nie huiwer om dit uit te spreek nie. Hulle gooi lankal nie meer klippe nie, hulle klim sommer kaalvuis in en slaan hard. Hiervoor gebruik hulle frases soos: Die Bybel sê …; die Here sê mos …; die Heilige Gees het vir my gesê …
Maar Paulus vereenselwig hom met die skuld aan ’n lewenswyse wat oorheers is deur sondige begeertes en die gevolglike ellendige dade. Mea culpa! sug hy dit uit. Ook ék het hieraan skuld.
Op hierdie manier wys hy aan sy lesers waarom hy goed weet hoe hul sondige lewe lyk: Hy was self daar, hy kan eerstehands daarvan getuig. Met hierdie empatiese erkenning kan hy begin om hulle op ’n oplossing voor te berei, een wat klaarblyklik vir hom ook gewerk het.
Hoe anders as die hedendaagse heiliges tree Paulus nie op nie! Sonder oordeel of veroordeling, sonder vroomheid of versie. Net maar met eensgesinde broederskap. En met die oog stip op uitkoms gerig.
Here, help my ook om te onthou hoe ver U my gaan haal het, hoe diep U my moes uithaal.
Barend Vos