Lees Efesiërs 2:4-10.
Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God (v 8).
Julle sondes het julle ingehaal, sê Paulus vir die gemeente in Efese. Dit was by ons ook só, erken hy, en vervolg: “Maar God is ryk in barmhartigheid …” (v 4).
Maar God …
Dit is waarskynlik die kortste opsomming van die Christusevangelie. Ná alles wat verkeerd geloop het, ná elke oortreding van God se wil, ná die laaste moedelose sug oor sonde se heerskappy, kom daar hierdie oorstelpte uitroep: Maar God …!
Ja, dit is Hý wat ’n stokkie steek voor elke bose opmars of menslike moedswilligheid. Hy voorkom groter ellende, Hy herstel die skade. Hy doen die genadige ingryping, Hy bring die lewegewende redding. Uiteindelik is dit dan ook Hy wat die droogmakers óórmaak. Wat dié wat deur sonde doodgemaak is, weer ’n nuwe lewensasem gee. ’n Ewigheidsasem.
Dit alles, sê Paulus, is slegs ’n illustrasie van die verbluffende genade wat God aan die onverdienstelikes bewys. Dit behoort hulle verleë te maak, stillerig. Beskeie. Hulle kon toe niks tot hul eie redding bydra nie. Die nuwe asem is ’n blote guns, die nuwe hoop ’n geskenk wat sonder voorwaardes uitgedeel is.
Gebruik dan nou jul nuwe lewe as ’n kans om dankie te sê, moedig Paulus hulle aan. Gaan wees goed vir ander mense. Gaan vertel hulle, wys hulle, hoe lyk ’n doodsbestaan waarin God beslissend ingegryp het. Dit is ware sendelingwees: die verkondiging van die “maar God”-evangelie in ’n wêreld vol mense wat noodlottig moeg en gevaarlik oorlaai geword het.
Ook ek was verlore in my sonde, Here. Maar God se Naam is Redder.
Barend Vos