Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Redder

Lees Johannes 3:14-17.

“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het …” (v 16).

Hierdie bekende (die heel bekendste?) vers in die Bybel kom uit die mond van daardie einste Seun. In sy naggesprek met Nikodemus, die Fariseër en lid van die Joodse Raad, gaan haal Jesus sy gedul­dige verduideliking ver, tot uit die Eksodusverhaal en die ou trek­volk se ellendige lot toe hulle vir hul halsstarrige sonde geboet het.

Maar toe maak Moses in opdrag van God ’n noodplan, herin­ner Jesus dié geleerde man wat daardie ou, ou genesingsverhaal so goed ken. ’n Plan wat baie se lewe sou red. Hulle moes bloot geleer word om óp te kyk, dan sou hulle lewe.

Nou, voeg Jesus by, het God in hierdie nuwe geskiedenis vol verdorwenheid weer ’n plan gemaak, ’n ander plan. En, ja, Niko­demus, jy kyk nou na Hom. Ek is daardie Ander Plan. Kyk net op, kyk na My, en jy sal lewe.

Só lyk God se liefdesdaad vir hierdie wêreld wat Hy met soveel sorg gemaak het. Die skepping met sy skepsels wat so erg onder selfvernietiging deurloop dat daar byna geen hoop meer vir hulle en hul wêreld is nie. Soos die ou volk is dié nuwe bedeling ook klaar met die wêreld.

Maar, sê Jesus aan Nikodemus, moenie bang wees nie. Julle sal nie verlore gaan nie. Ek heet ook Nuwe Hoop. My Naam is Geen Veroordeling. Ek is die Redder vir jou en jou wêreld. Ek gee die lewe in oorvloed, tot in ewigheid. Ek het julle lief.

Glo julle My?

Ek glo, Here! U is my lewe. U leer my om op te kyk, na waar my hulp vandaan kom.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.