Lees Johannes 3:18-21.
“En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis … liefgehad …” (v 19).
Die mens is darem maar ’n vreemde ding. Tog te lief vir die lig, veral as dit die kollig is. As jy die manjifieke middelpunt van al die aangename aandag is. Maar moenie dat daardie lig in die donker hoekies begin skyn nie! Moet tog nie dat die lig dinge begin openbaar wat liefs verborge moes bly nie.
Dit, sê Jesus, is die onderskeid tussen mense. Hier lê die grens: dié wat lief is vir die lig en boonop daardeur aangetrek word, al word hulle soms daardeur verlei, teenoor diegene wat duisend maal eerder die duisternis verkies en daar wegkruip.
Dit is die bedreiging wat Jesus bring, dié van die lig. Waar Hy is, is daar geen duisternis nie. Geen donker hoekie nie. Geen wegkruipplek nie. As Hy oor jou lewe skyn, word die donkerte verdryf, oral. Alles kom aan die lig.
Dit is vir baie mense eenvoudig te erg. Dit is nie dat hulle teen die lig gekant is nie. Maar hulle sou verkies om daardie lig op hul eie voorwaardes toe te laat. Op vooraf bepaalde plekke. Op tye en by geleenthede wat hulle pas. Hierdie blakerende helderheid wat so sonder skroom kom ontbloot, pas hulle hoegenaamd nie.
Hulle sou dus, dit weet ons nou, van die lig ontslae raak. Hulle sou dit met geweld uitdoof, in die waan dat hulle nou van Hom verlos is. Dié ironie ontglip hulle: Hy is hul Verlosser. Sy lig, Hý, is hul enigste kans om van die duisternis wat hulle in sy kloue het, bevry te word.
Jesus, lig van my bestaan, U skyn ook oor my. Dit maak my bly, en soms bang.
Barend Vos