Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Hý help my

Lees Jesaja 50:4-9.

Die Here my God het my geleer … (v 4).

Uitdagend. Selfversekerd. Getroos.

Dit is maar drie van die moontlike woorde wat by lesers opkom wanneer hulle die skrywer se verduideliking lees oor wat die Here se rol in sy lewe en optrede is.

Uitdagend, ja, want soos ’n refrein loop dit deur hierdie stuk: Die Here my God het my geleer, Hý het my gehelp. En selfver­sekerd, ja – die leser kan bloot tel hoeveel keer “ek” en “my” in hierdie klompie verse voorkom.

Maar bowenal is hy ’n grondig getrooste mens, want die “ek” en “my” word gerelativeer deur “die Here my God”. Ek kán dit regkry, want die Here het my geleer. My rug is volledig gedek, want die Here help my.

Hoe bekend klink dit nie! Dit was mos Paulus wat later ook só gesê het. Onthou? “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee” (Fil 4:13).

Ja, tot vandag is dit die strydlied van elke Christenstryder wat, soos die ou liedjie dit wil hê, “voorwaarts” wil gaan. Die stryd, en die oorwinning, behoort aan Hom. “Wie wil my aankla?” roep die skrywer uit. “Laat hom vorentoe kom” (v 8).

Maar dit is veral ook die verloorders se trooslied. Hulle wat nie kan onthou wanneer laas hulle enigiets gewen of verower het, of selfs óf hulle al ooit voorwaarts gegaan het nie. Hulle wat weet hoe afhanklik hulle van God is (Matt 5:3); hulle wat gereeld roep: Help my, Here, ek sink! (Matt 14:30); dié wat dikwels bely: Ek glo, Here! Kom my ongeloof te hulp (Mark 9:24).

Dit is U wat my maak wat ek is. My onmag en twyfel, ook my selftwyfel, is nie vir U te veel nie.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.