Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

My wil

Lees Jesaja 42:1-9.

’n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ’n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie. Hy sal my wil bekend maak soos dit is (v 3).

Die Here se wil. Dit is waarskynlik die Christelike geloofswêreld se enkele mees misbruikte woordkombinasie. Dese en gene gebruik dit op elke moontlike en onmoontlike plek, en in elke denkbare en ondenkbare situasie. Selfs die moderne versekeringsbedryf het ’n onderafdeling genaamd “Rampe, ellende en ander onverklaar­baarhede”, of, kortweg, “an act of God”.

God se werk. Willens en wetens.

Wat ’n goddelose god word hier tog beskryf! Niks minder nie as ’n god wat na die beeld en die gelykenis van die mens geskep is. Want die Bybel ken hóm nie, behalwe dalk in die afskuwelike ver­hale oor die gesnede beelde waarvan ons in die Ou-Testamentiese profeteverhale en koningsvertellings lees. Nee, die God van die Bybel is heeltemal anders as daardie wraaksugtige, kleinsielige skeppings van die aartsbygelowiges.

Die God in die Bybel, die Een wat ’n dienaar aanstel om sy wil bekend te maak, leer ken ons in Jesaja 42. Hierdie dienaar praat, soos Hy, met ’n sagte stem. Bring, soos Hy, die lig na die donkerte, bevryding na die vasgevangdes.

Soos die God wat hom aangestel het, sal hierdie dienaar nie gebrokenes vertrap en sukkelaars agterlaat nie. Dit is sy wil, soos sy God s’n, om moed te gee aan dié wat swaar sug, om ’n uitsig te gee aan dié wat in hul klein hoekie vasgevang sit. Om asem te gee aan dié wat doodsbenoud is.

U wil is hierdie wêreld se behoud, Here. U werke bring herstel. Ek soek net u wil, en ek begeer net u optrede.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.