Lees Johannes 13:1-17, 31-35.
“As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is” (v 35).
Dit sou straks makliker gewees het as Jesus gesê het: As julle doen wat Ek sê, sal almal weet dat julle my dissipels is. Of: As julle My volg, sal almal weet …
Maar toe sê Hy nie dit nie. Hy lê die liefde-vir-mekaar-wet neer. Wat ’n swaar eis!
En dit word nie makliker gemaak deur sy praktiese voorbeeld hiervan in die eerste sewentien verse van dié hoofstuk in Johannes nie. Kyk, die voetewas-episode sorg vir boeiende leesstof: Jesus se onverwagte optrede; Petrus se weiering, en sy skielike ommeswaai; die stille volvoering van dié verbysterende liefdesdaad. Jesus wat weer sy bokleed aantrek, weer aan tafel gaan sit. Wat ’n prentjie! Wat ’n storie!
Maar dan volg Jesus se kommentaar op sy optrede – en Hy gee die prentjie, die storie, aan sy volgelinge terug. Ja, dit is presies hiér waar die skroewe aangedraai word: Ek het dit vir julle gedoen, julle behoort dit ook vir mekaar te doen. Ek het die voorbeeld gestel, julle moet dit navolg. ’n Klaas is nie belangriker as sy Baas nie.
En as Baas voor Klaas kniel en sy voete was, hou hierdie vreemde optrede ’n duidelike opdrag in: Só moet dit by julle en tussen julle ook wees. Sodat die mense kan weet dat julle my dissipels is.
Ons sê graag dat ons voor God kniel, en voeg dan haastig by: Voor Hom alleen. Ons sal voor Hom buig, nét voor Hom.
Jesus vra meer as dit. Hy wil ook weet of ons sy volgelinge is.
Ag, Here, hoe swaar is dit om voor ’n medemens te buk! Hoe vernederend om voor minderes op jou knieë te gaan.
Barend Vos