Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

’n Tweede kyk werd?

Lees Jesaja 52:13–53:12.

Wie sal ons glo as ons hiervan vertel? Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien? (53:1).

Dit is sekerlik een van die mees geliefde stukke poësie in die Bybel, dié Kneg-van-die-Here-lied. Aangrypend in sy eenvoud. Hart­verskeurend mooi. Maar dit verwoord ook die pynlikste waarheid denkbaar wanneer versreël op versreël van gebrokenheid getuig. Van lyding. Van dwaling. Sonde. Dood en graf.

Van onmag. Daar is ’n eenvoudige antwoord op die vraag, re­tories of nie, in hoofstuk 53:1: Bitter min sal dit glo. En feitlik niemand sal die Here se mag daarin raaksien nie.

Dit lyk kompleet soos die toneel waar ’n man aan ’n kruis hang en met wie daar genadeloos gespot word. Almal kyk weg. Hoe aanstootlik om soveel naakte pyn te moet aanskou, sulke groteske wonde. Wie sal vra hoekom hy daar hang? Wat hy gedoen het om dit te verdien? Wie sal dit waag om ’n tweede keer na hom te kyk?

Wat die gewalgdes nie geweet het nie, is dat hierdie versukkelde een dit alles namens húlle deurgemaak het. Hy het die prys betaal wat hulle nie kon nie. Hy is in hul plek verbrysel. Hy het stilgebly terwyl hulle geskreeu het. Die bloed wat uit sy wonde gevloei het, dit waarna hulle nie wou kyk nie, het hul seerplekke toegemaak en hul swakhede bedek.

Hulle het dus hul eie genesing aanskou, en dit nie geweet nie. Hulle het hul eie dood gesien, en tog bly lewe. Hul eie graf, en dit nie ter harte geneem nie. Wie sal dit tog glo? Wie sal ’n tweede keer wil kyk? Almag het nog nooit só gelyk nie …

Is dit, is dit my Koning? Here, Redder, groot en magtig? Ja, ek kos Hom die slae, die smarte en die hoon.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.