Lees Psalm 118:1-4.
… aan sy liefde is daar geen einde nie! (v 1).
Die eenvoudige beskrywing van die Here se eindelose liefde word in hierdie vier verse as ’n refrein ingespan. Dit was klaarblyklik ’n bekende formule in Ou Israel, het ons gesien (Ps 136). Dalk is dit as ’n liturgiese beurtsang bedoel: Die voorsanger sing die lied en die gemeente volg, keer op keer, met die refrein.
Sangers, hoe ongeoefen en amateuragtig ook al, kan ’n refrein maklik baasraak. Die woorde is min en eenvoudig en die wysie pas gewoonlik naatloos daarby. Al weet ons nie meer hoe die wysie hier geklink het nie, steek die woorde sommer gou vas. Voor jy jou kom kry, word “aan sy liefde is daar geen einde nie” ’n motto wat in jou geheue ingebrand en, hopelik, in jou hart gebêre word.
Predikers en ander kerkmense kan gerus die liturgiese gebruikswaarde van hierdie refrein ondersoek. In hierdie vier verse word dit ’n sleutelfrase in ’n geloofsbelydenis. Maar juis gelowiges sal weet die heel belangrikste is dat die teologiese waarheid daarin aangegryp word.
En, nee, dit is nie dat ’n mens, hoe gelowig ook al, hierdie woorde volkome kan begryp nie. Want wie weet presies hoe die Here se liefde lyk? En hoe word die eindeloosheid daarvan bereken? Maar gebrekkige kennis verhinder jou nie om dié refrein vir jou lewe en jou geskiedenis toe te eien nie. Dit bly die eenvoudigste mantra om jou hoorbaar aan God se sorg oor te gee. ’n Agt-woord-sug waarmee jy in sy Vaderhand tot rus kom.
Ja, Here, in u hande gee ek my gekwelde gees oor. Ek rus in u eindelose liefde.
Barend Vos