Lees Psalm 118:14-24.
Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword (v 22).
Die psalmdigter wat die refrein “aan sy liefde is daar geen einde nie” aan die begin van sy danklied inspan, gaan hier voort om in meer besonderhede oor dié eindelose liefde te sing. Voor die mense wat na hom luister, getuig hy oor sy redding uit ’n skrikwekkende situasie. Dit is soos gebedsverhoring lyk! juig hy.
Daarom wil hy persoonlik gaan dankie sê. Hy het sy verwondering nou reeds voor almal uitgespreek, maar hy wil in die tempel ingaan om daar dié dankbare boodskap te gaan oordra.
Tipies, nie waar nie? So eg menslik. Om alles wat die mense reeds weet, ook aan die Here te gaan vertel. Asof Hy nie weet nie.
Só is ons. Maar dit is goed so. Dit help ons onder meer om te onthou waar alles vandaan kom. Ons moet natuurlik ook nie vergeet waar óns vandaan kom nie. Hoeveel dit die Here gekos het om ons te bring tot waar ons nou is nie. Hoe Hy, toe almal moed opgegee en geduld verloor het met hierdie krom en skewe stukkie menslikheid, gesê het: Jy is Myne!
Hoe Hy die misvormde, weggegooide klip gaan optel het, dit weer na sy beeld en sy gelykenis hervorm het, daarvan selfs ’n hoeksteen gemaak het. Hoe geweeg-en-te-lig-bevind ’n edelsteen geword het. Aan sy vermoë is daar geen einde nie!
Wanneer hierdie bevrydingsboodskap later in die Nuwe Testament op Jesus van Nasaret van toepassing gemaak word (Hand 4:11), leer ons weer eens hoe die evangelie werk. En val die heerlike vreemdheid van God se keuses sag in ons hart.
U het my gevat soos ek is. Wat ek nou is, is net genade.
Barend Vos