Lees Jesaja 25:6-9.
Hier sal die Here God die dood vir ewig vernietig, en die trane op almal se gesigte afvee (v 8).
Deur die eeue het gelowiges metafore gebruik om God te probeer omskryf. Al hierdie beeldspraak stuit egter onvermydelik op die voorlopigheid van hul oordeel, die beperktheid van hul woordeskat, die onmag van hul verbeelding. Kortweg: Ons weet te min van God om akkurate prentjies van Hom te teken. Ons potlode is heeltemal te stomp en ons papier te min. Ons kan doodgewoon nie so groot, so ver, so hoog en so wyd dink nie.
Dit beteken nie dat ons nie gehelp word deur medegelowiges se pogings nie, veral dié in die Bybel. Wie is byvoorbeeld nie dankbaar vir die herderbeeld nie? Vir Jesus wat ons help om God “ons Vader” te noem wanneer Hy ons leer bid nie? En wat van die Ou Testament se “rots”, die Een met “die vleuels waaronder ons skuil”, die “vlerke waarop ons gedra word”? En die Nuwe-Testamentiese “boer”, “eienaar”, “regter”? Die boek Openbaring se “Een wat op die troon sit”?
Jesaja 25 gee ons op sy beurt die Gasheer wat ’n gulle feesmaal berei. En dan, te midde van die ete en drinke, sê die profeet Hy is boonop die Gewer van nuwe lewe. Die Een wat die versluierende, verstikkende doek van sy mense afgooi, sodat hulle weer kan asem kry en weer die lig kan sien. Só vee Hy sy mense se trane af. Só laat Hy hulle weer lag. Só vernietig Hy die laaste vyand.
En só kan ons Hom ook as die Lewegewer teken, met al die uitbundige kreatiwiteit waaroor ons beskik. Met ’n kleurryke, ewige vrolikheid in ons hart.
Here, U sien my trane, my vrese. Gee my tog nuwe lewe. Maak my bly oor alles wat U vir my is.
Barend Vos