Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Kentekens

Lees 1 Korintiërs 5:6-8.

Ons paaslam is immers geslag: dit is Christus. Laat ons dan feesvier … met die ongesuurde brood van reinheid en waarheid (v 7-8).

Ook die gekruisigde en opgestane Jesus Christus word deur die jong kerk met maklik herkenbare beeldspraak beskryf. Vir die destydse Jode was die paaslam ’n bekende en geliefde beeld. Dit was immers dié simbool, saam met die ongesuurde brood, van die bevryding uit Egipte. Die bevrydes en hul nageslag sou die Paasfees jaarliks met oorgawe vier.

Toe kom Jesus. Hy word geslag en bring só die bevryding uit die slawehuis van sonde. In die vroeë kerk, en tot vandag toe, word die fees van die Lam-sonder-gebrek gevier – met die nodige respek, met brood en wyn as tekens van ’n gebreekte liggaam en uitgestorte bloed. Maar dit bly ’n fees wat ook gevier word met vreugdevure wat net deur fenomenale verlossing aangesteek word.

Hier neem Paulus die ou beeldspraak ’n treetjie verder wanneer hy die Christene in Korinte aansê om van die “ou suurdeeg” (v 7) ontslae te raak en die fees met ’n nuwe uitkyk te vier. Hy sê: Die geslagte Paaslam is ’n heerlike feit, en die nuwe, ongesuurde deeg ook. Vier dus die fees met ’n mentaliteit en die optrede wat daar­by pas!

Wat Paulus betref, is die kerk se feesvreugde op ten minste dié waardes gegrond: reinheid en waarheid. Dit bly vername kente­kens van Jesus Christus se kerk. Dit is ’n liggaam wat vry is van die besmetting van liefdeloosheid. Dit verkondig die prinsipiële onaanvaarbaarheid van leuens en leef dit so uit. Só sê Paulus …

O Lam van God wat die sonde wegneem, was my skoon! En reinig gereeld die kerk waar ek tuisgekom het.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.