Lees Psalm 114.
Bewe, aarde, as die Here verskyn, as die God van Jakob verskyn (v 7).
Die skepping beweeg as die Skepper verskyn! sing die psalmdigter. En wie sal dit waag om hiér ’n vals noot te laat hoor? Die Here het tog nog altyd voor sy mense uit getrek. Hy trap die spoor, en hulle volg. Waar Hy sy voet neersit, daar bewe die aarde. Nie een van sy aanbidders sal hieroor stry nie.
Maar vergewe tog die hedendaagse navolgers hul meewarige, skeptiese, selfs siniese glimlaggies: ’n Mens moet darem realisties bly, sê hulle. Die werklikheid voor oë hou. Gelowiges, sug hulle, is darem nie naïef nie.
Toe ontwikkel hierdie moderne beterweters ’n eie woordeskat en word “die skepping se gebrokenheid” hul skuilplek, en “die mens se sondige natuur” hul eerste verweer. Hulle het “broosheid” ’n teologiese konstruksie gemaak en “deernis” tot ’n foeitogwoord laat vervlak. Hul reaksie op lof aan God dra immer ’n “ja, wel …”-stempel.
Daarom is psalms soos dié vir hulle ’n verleentheid en blaai hulle dikwels vinnig daar verby. Gaan hulle op soek na soberder, beter geankerde en meer verantwoordbare lofbetuigings.
En só gee hulle die verbysterende Psalm 114-beeld van berge wat soos ramme rondspring en rante wat soos lammers baljaar, prys. Verloor hulle die uitgelatenheid van mense wat bloot baie bly en ongebreideld dankbaar is oor God se teenwoordigheid. Misken hulle die moontlikheid dat selfs suurknolle soos hulle maar ’n huppel in die stap mag hê en ’n glimlag kan vertoon wat hul oë bereik.
Oorweeg hulle nooit die moontlikheid van ’n vrolike God nie.
U is groot, Here ons God! U speel met kleintjies soos ons. U maak ons só gelukkig!
Barend Vos