Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Bang, maar gestuur

Lees Johannes 20:19-25.

Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode … (v 19).

Bymekaar, ja. Hoe dan anders? Bang mense soos ons soek mekaar mos op.

Ons het genoeg rede gehad om bang te wees. Jesus is immers daardie Vrydag gekruisig en voor donker begrawe. Toe kom die sabbat, en alles is stil soos die wet dit voorskryf. Onheilspellend stil.

Sondagoggend vroeg kom die vroue hier aan met die ontstel­lende nuus: Die graf is leeg!

Nee! Wie het sy liggaam weggevat? Wat gaan nou van ons word?

Ons kry mekaar in die bovertrek, ons ou wegkruipplek. Ons grendel die deur. Ons sluit ons dig toe sodat niemand ons kan by­kom nie. Dankie tog dat ons mekaar het. Ons kan mekaar vashou, mekaar troos. Vrees is ’n eensame ding.

Net Tomas Didimus ontbreek. Waar sal hy wees? O, en Judas. Maar ons weet van hom. Almal weet van hom. Wat sou van Tomas geword het?

En toe staan Jesus by ons. Hý, ja. Tussen ons. En Hy sê: “Vrede vir julle!” (v 19). Moenie bang wees nie, dit is Ek. Kyk my hande. En kyk, net hier het hulle die spies ingesteek, hier in my sy. “Vrede vir julle,” sê Hy toe weer (v 21). Daar was geen twyfel nie. Dit was Hy. Hy blaas toe oor ons en sê: “Ontvang die Heilige Gees!” (v 22). En hoor hier: Ek stuur julle … Hy leef! En Hy het vir ons ’n nuwe opdrag gebring. Verstom­mend! Ons kan dit byna nie glo nie!

Maar waar is Tomas? Wat sal hy sê as ons hom van al hierdie dinge vertel?

Here, ek is een van die banges. Nogtans vertrou U my, stuur U my ook.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.