Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

U hoor alles

Lees Psalm 4:1-6.

As jy ontsteld raak … dink in stilte daaroor na as jy gaan lê (v 5).

Ontsteltenis het vele gesigte. Dit wys hierdie intieme klein psalm vir ons. Die digter val sommer weg met ’n oproep dat die Here hom moet antwoord. U het nog altyd, sê hy; U moet dit tog nou ook doen.

Iewers is hy ’n onreg aangedoen, lei die leser af. Al wei hy nooit regtig daaroor uit nie, weet ons wel dat dit mense en hul leuens is wat hom ontstel het. En hoe volledig kan ons ons nie daarmee vereenselwig nie …

Ja, om die slagoffer van valsheid te wees, is érg. Dit laat jou magteloos. Teen die tyd dat die stories jou ore bereik, is dit te laat. Jy kan jou nie regtig meer daarteen verweer nie, die vals gerugte is soos vere in die wind gestrooi. Wie sal dit ooit kan opruim?

Here, hoor my hulpgeroep! roep die skrywer uit. En dan waar­sku hy die oortreders by voorbaat dat hul dag sal kom, daarvoor sal die God van geregtigheid sorg. Want hulle wat op ’n mishoop vol onwaarhede wil koning kraai, stel hulle bloot aan die argwaan van Hom wat hoor as sy kinders kla.

Nou troos die digter ook dié wat onder sulke onreg ly, en hy waarsku: Moet jou nie laat intrek in ander se vuilspel nie, los dit vir God. “Let go, let God.” Hý sal met hulle afreken. Die wiel wat draai, is in sy hande.

Gaan slaap dus maar, sê hy, slaap gerus. Moet jou nie moeg maak met wraakgedagtes wat jou uit die slaap hou nie. Die Here ken die hele storie.

U het my gehoor, U het hulle gehoor. U weet wat U sal doen. Ek rus by U.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.