Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Toe én nou

Lees Psalm 4:7-8.

Daar is baie wat sê: “Wie sal dit weer met ons goed laat gaan?” (v 7).

Dit is klaarblyklik maar in die mens se aard, sê die digter, om vooruit te wens en agtertoe te sug. Die wens hier is dat die Here tog weer voorspoed sal bring, want kyk net wat het Hy in die verlede gegee – groot vreugde!

Hierdie siening het baie meriete, nie waar nie? Ons maak staat op die lesse wat die geskiedenis ons leer, veral dan dié uit God se verhaal met ons. Ons herinner ander mense, ook moedeloses soos ons, én onsself dikwels aan die Here se trou deur na sy optrede, sy ingryping, in die verlede te verwys. Ons sê: Hy het mos destyds …

Inderdaad. God se pad met ons lê aan die hart van sy wese. Hy is trou aan Homself, Hy los nie die kinders wat Hy uitgekies het nie. Hy laat hulle veral nie aan hulleself oor nie. Keer op keer red Hy hulle van hul ontrou, kom Hy hul ongeloof te hulp. Kom sy krag tot volle werking in hul swakhede. Herinner Hy sy kinders aan wie Hy is en wat Hy alles vir hulle gedoen het.

Dan hoop Hy sekerlik dat hulle Hom tog sal glo wanneer Hy op vele maniere sê: Jy is Myne!

Sal hulle wat aan Hom behoort dan ooit vergeet hoeveel vreug­de Hy hulle reeds laat belewe het? Sal hulle ooit ophou getuig van hul opperste bevoorregting, selfs bó die seëninge van diegene wat ’n oorvloed van alles het?

O God van Jakob, U het weleer op see en land ons vadere behoed. Wil ons en ook ons kroos voortaan u guns en trou betoon.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.